Pages

Monday 15 July 2013

My Wêreld

Jy het oud geword. Ek kyk in jou oë en sien die jare se herinneringe daarin lê. Jou plooie het meer as net lagplooitjies geword. Die son vang silwergrys strepies in jou hare op en weerkaats dit teen die muur. Jou hande toon die tekens van tyd en jou lyf het tam geword. Vat my hand, en laat ek jou lei na my wêreld. Na daar waar alles nog jonk en mooi is…


Lag weer saam met my oor die dinge van 'n kind. Lag omdat die dag vol vreugde is en omdat daar geluk in my hart is. Lag vir die bure se maltrap kat en vir die haasbek klonkie op sy fiets. Lag sodat die klank van jou stem 'n melodie kan vorm saam met die oggendsang van die voëls.

Stort dan 'n paar trane saam met my. Huil saam met my oor die rou seer van my gebroke hart, oor my verlore liefde. Huil omdat dit te seer maak om te lag.

Kom draai rondomtalie saam met my buite in die reën. Kaalvoet. Laat die druppels die moegheid van jou afwas en jou opnuut met lewenslus vul. Klim hande-viervoet saam met my oor die reënboog en vergeet jou sorge. Ry saam met my op die rug van die wind tot by die môrester. Dan lê ons in die koepel van die maan totdat die son die aarde rooi verf.

Luister saam met my na die klank van stilte. En geniet dit. Hoor hoedat die wind deur die gras waai en vergeet van die gejaag wat daar in jou lewe is.

Vergeet van alles wat jou oud gemaak het. Van elke plooi en grys haar. Vergeet van al die dinge wat agter jou lê en kyk vorentoe, die toekoms in. Word weer jonk en loop die pad saam met my. Help my deur al die swaar tye wat voorlê en geniet die res. Tel my op as ek val en dokter my kneusplekke sodat ek kan voortgaan met die wete dat jy altyd daar vir my sal wees.

No comments:

Post a Comment