Ek breek
deur die kors van 'n droomlose slaap, my oë groot en wit teen die donker
skaduwees van die nag. Sweet versamel op my voorkop en ek skop die kombers van
my koorsige lyf af. So lê ek vir 'n oomblik, luister na die oorverdowende
tik-tok van die horlosie teen my slape. Ek is bang vir die môre wat voorlê,
bang vir die finaliteit wat die nuwe dag gaan bring. Ek wens dit wil vir ewig
nag bly sodat ek kan vasklou aan die herinneringe van die vorige aand. Ek staan
in die donker op, gooi die vensters oop en maak myself in 'n bonneltjie op die
vensterbank tuis.
Ek het
lankal reeds van hom gehou. Van die eerste oomblik wat hy my lewe ingestap het.
Maar hy het elke keer weer uitgestap, sonder om twee maal te kyk.
Tot eendag…
Hy het
stilgestaan en gesels, tyd het stilgestaan, my hart het gaan staan. Elke dag
daarna het ek die baie woorde van sy min gesels dorstig ingedrink. Gisteraand
het hy my uitgevra. Ek was in die wolke, my hart het vlerke gekry en my liggaam
verlaat. Die aand het soos 'n droom verbygegaan. Vir 'n oomblik was ek
gelukkig.
Nou kyk ek
na die rooi gloed van die son in die ooste en ek weet dat hierdie dag net pyn
gaan inhou. Dat hy uit my lewe gaan verdwyn soos die baie voor hom. Dat hy my
woordeloos opsy gaan skuif, omdraai en my verdwaas agterlaat, met die wete dat
die einde weereens die begin verbygesteek het. Ek vee die trane af en trek my
skouers regop.
Voel skielik klein en
alleen.