Pages

Thursday 28 November 2013

Grootword

Ek mis jou vanaand, Ma. Ek mis jou stem en jou glimlag. Mis al die laataand geselsies as ons stilletjies die yskas gaan plunder. Die gemaklike stiltes en die baie gesels oor min dinge.

Ek wens ek was weer klein sodat ek in die oggend saam met jou in die bed kan lê en figure soek tussen die skadupartoontjies teen die dak. Dat ek jou hand kan vashou en agter jou rok kan skuil as die vreemde vir my te groot word. Dat ek na jou kan roep as ek bang is en jy kan antwoord sonder om die telefoon op te tel.

Jy het my uitgestuur in die wêreld om my voete te gaan vind, die fondasies vir my toekoms te gaan lê. Om my drome te gaan bou. Maar dit is 'n koue wêreld, Ma. Vol koue mense met koue, grypende hande. Mense met leë oë en leër harte.

Ek vlug uit voor die dae. Die nagte is lank en donker. Ek is eensaam tussen al die baie mense. Ek huil saggies omdat ek na jou verlang. Huil oor die groot seer wat besig is om my te verteer.

Hoekom grootword?
Grootword en dan oor klein dinge seerkry?
Hoekom nie vir altyd by jou bly waar dit warm is nie, en veilig?

Hoekom grootword?
Om dan alleen in 'n koue wêreld te gaan bly.
Om met koue hande na die onskuldiges te gryp, terwyl my oë en hart leegloop.

Thursday 29 August 2013

Verlange

Die smaak van verlange is bitter. Soos koue koffie sonder suiker. Bitter soos gal. Verlange is 'n bol opgekropte emosies wat met spykervingers aan jou hart vasklou. Verlange is onaantasbaar, tog maak dit seer. Dit skeur jou siel aan flarde en gooi die repe daarvan in die wind.

Ek verlang elke dag ‘n bietjie meer na hom. Verlange het nou al deel van my geword. Soos asemhaal. Ek is al so gewoond aan die beklemming in my bors dat ek dit sekerlik sal mis, dié dag as ek nie meer verlang nie. Dit hou my aan die lewe.

Ek word in die oggend wakker en wag vir die gevoel om oor my te spoel. Gaan slaap in die aand met dieselfde gevoel nogsteeds diep in my hart genestel. Ek leef van die pyn soos ‘n parasiet op die weefsel van sy slagoffer. Ek tap my lewenskrag uit verlange, dit teer op my. Ons het ‘n siek simbiotiese verhouding. Ons voed mekaar. Voer mekaar vet.


Ek weet dat ek eendag daarvan sal moet afstand doen. Dat ek verlange se taai greep van my lyf sal moet losmaak. Dat ek myself sal moet distansieër en weer asemhaal op my eie. Ek besef dat ek een oggend gaan wakker word en grootoog gaan lê en wag vir die gevoel. Maar dit gaan nie kom nie. Ek gaan oor hom wees en nie meer na hom verlang nie. Ek gaan vry wees, of gaan ek?

Ek wonder of ek die gevoel van verlange gaan mis?

Tuesday 30 July 2013

Feline

Jy het groot groen oë wat my vraend dophou, so asof jy al die geheime van die heelal ken en nie verstaan hoekom ek somtyds so daarmee wroeg nie. Jy is gemaklik en tevrede met die wêreld.

Probleme is 'n vreemde konsep vir jou, iets wat met die swaai van jou stert uitgewis kan word. Jy laat jou nie regeer of voorskryf nie.

Dis vir jou ewe lekker om buite tussen die blare as op my verekussing te slaap. Jou hare is sag en warm onder my hand, jy ruik soos lewe. Jy draf wipstert-neus-in-die-lug en trap nat sementspoortjies oor my hart.

Jy bring vrede en vreugde, maak my alleen-wees bietjie makliker.  

Wednesday 24 July 2013

Begin Versus Einde

Ek breek deur die kors van 'n droomlose slaap, my oë groot en wit teen die donker skaduwees van die nag. Sweet versamel op my voorkop en ek skop die kombers van my koorsige lyf af. So lê ek vir 'n oomblik, luister na die oorverdowende tik-tok van die horlosie teen my slape. Ek is bang vir die môre wat voorlê, bang vir die finaliteit wat die nuwe dag gaan bring. Ek wens dit wil vir ewig nag bly sodat ek kan vasklou aan die herinneringe van die vorige aand. Ek staan in die donker op, gooi die vensters oop en maak myself in 'n bonneltjie op die vensterbank tuis.

Ek het lankal reeds van hom gehou. Van die eerste oomblik wat hy my lewe ingestap het. Maar hy het elke keer weer uitgestap, sonder om twee maal te kyk.

Tot eendag…
Hy het stilgestaan en gesels, tyd het stilgestaan, my hart het gaan staan. Elke dag daarna het ek die baie woorde van sy min gesels dorstig ingedrink. Gisteraand het hy my uitgevra. Ek was in die wolke, my hart het vlerke gekry en my liggaam verlaat. Die aand het soos 'n droom verbygegaan. Vir 'n oomblik was ek gelukkig.

Nou kyk ek na die rooi gloed van die son in die ooste en ek weet dat hierdie dag net pyn gaan inhou. Dat hy uit my lewe gaan verdwyn soos die baie voor hom. Dat hy my woordeloos opsy gaan skuif, omdraai en my verdwaas agterlaat, met die wete dat die einde weereens die begin verbygesteek het. Ek vee die trane af en trek my skouers regop.

Voel skielik klein en alleen.


Monday 15 July 2013

My Wêreld

Jy het oud geword. Ek kyk in jou oë en sien die jare se herinneringe daarin lê. Jou plooie het meer as net lagplooitjies geword. Die son vang silwergrys strepies in jou hare op en weerkaats dit teen die muur. Jou hande toon die tekens van tyd en jou lyf het tam geword. Vat my hand, en laat ek jou lei na my wêreld. Na daar waar alles nog jonk en mooi is…


Lag weer saam met my oor die dinge van 'n kind. Lag omdat die dag vol vreugde is en omdat daar geluk in my hart is. Lag vir die bure se maltrap kat en vir die haasbek klonkie op sy fiets. Lag sodat die klank van jou stem 'n melodie kan vorm saam met die oggendsang van die voëls.

Stort dan 'n paar trane saam met my. Huil saam met my oor die rou seer van my gebroke hart, oor my verlore liefde. Huil omdat dit te seer maak om te lag.

Kom draai rondomtalie saam met my buite in die reën. Kaalvoet. Laat die druppels die moegheid van jou afwas en jou opnuut met lewenslus vul. Klim hande-viervoet saam met my oor die reënboog en vergeet jou sorge. Ry saam met my op die rug van die wind tot by die môrester. Dan lê ons in die koepel van die maan totdat die son die aarde rooi verf.

Luister saam met my na die klank van stilte. En geniet dit. Hoor hoedat die wind deur die gras waai en vergeet van die gejaag wat daar in jou lewe is.

Vergeet van alles wat jou oud gemaak het. Van elke plooi en grys haar. Vergeet van al die dinge wat agter jou lê en kyk vorentoe, die toekoms in. Word weer jonk en loop die pad saam met my. Help my deur al die swaar tye wat voorlê en geniet die res. Tel my op as ek val en dokter my kneusplekke sodat ek kan voortgaan met die wete dat jy altyd daar vir my sal wees.

Tuesday 9 July 2013

Kruisbeen Op Die Mat

Ek is so bly jy is hier by my vanaand. Dat ons saam kruisbeen op die mat kan sit en die verlede opdelf. Jy het nie veel verander nie, net jou oë. Hulle is nog bruin, maar ouer, wyser. Dit is die oë van die man wat ek nog altyd geweet het jy sal word.

Jou briewe is koud en leweloos tussen my warm hande. Die ink van jou woorde so lank reeds droog. Ek vou elkeen versigtig oop en deel die stowwerige inhoud met jou. Ons lag oor dit wat was. Herroep die herinneringe van ons sorgvrye saamwees.

Onthou jy nog hoe dit was? Hoe my hand warm en sag in joune gepas het? Hoe my kop altyd die regte plekkie op jou skouer gevind het? Dit was so maklik om jou lief te hê. Tog het ek so groot gemors daarvan gemaak.

Ek wou jou gekeer het, daardie dag toe jy uit my lewe gestap het, maar ek was te kwaad. Nooit vir jou nie - sommer net. Ek wou jou soveel maal vertel van die onstuimigheid in my, maar kon nooit die regte woorde vind nie. Ek het jou laat gaan want dit was te moeilik om te verduidelik hoekom jy moet bly.

Ons het soveel tyd gemors. Al die jare tussen toe en nou voel skielik leeg en effens doelloos. Maar al wat saak maak is dat jy nou hier saam met my is. Kruisbeen op die mat.

Ek vou jou briewe op, bind die bonneltjie weer styf vas en bêre dit versigtig. Toe ek opkyk is jy weg. Ek het jou weggebêre saam met jou briewe in die houtkissie onder my bed.