Die smaak
van verlange is bitter. Soos koue koffie sonder suiker. Bitter soos gal.
Verlange is 'n bol opgekropte emosies wat met spykervingers aan jou hart
vasklou. Verlange is onaantasbaar, tog maak dit seer. Dit skeur jou siel aan
flarde en gooi die repe daarvan in die wind.
Ek verlang
elke dag ‘n bietjie meer na hom. Verlange het nou al deel van my geword. Soos
asemhaal. Ek is al so gewoond aan die beklemming in my bors dat ek dit sekerlik
sal mis, dié dag as ek nie meer verlang nie. Dit hou my aan die lewe.
Ek word in
die oggend wakker en wag vir die gevoel om oor my te spoel. Gaan slaap in die
aand met dieselfde gevoel nogsteeds diep in my hart genestel. Ek leef van die
pyn soos ‘n parasiet op die weefsel van sy slagoffer. Ek tap my lewenskrag uit
verlange, dit teer op my. Ons het ‘n siek simbiotiese verhouding. Ons voed
mekaar. Voer mekaar vet.
Ek weet dat
ek eendag daarvan sal moet afstand doen. Dat ek verlange se taai greep van my
lyf sal moet losmaak. Dat ek myself sal moet distansieër en weer asemhaal op my
eie. Ek besef dat ek een oggend gaan wakker word en grootoog gaan lê en wag vir
die gevoel. Maar dit gaan nie kom nie. Ek gaan oor hom wees en nie meer na hom
verlang nie. Ek gaan vry wees, of gaan ek?
Ek wonder
of ek die gevoel van verlange gaan mis?