Pages

Tuesday 9 July 2013

Kruisbeen Op Die Mat

Ek is so bly jy is hier by my vanaand. Dat ons saam kruisbeen op die mat kan sit en die verlede opdelf. Jy het nie veel verander nie, net jou oë. Hulle is nog bruin, maar ouer, wyser. Dit is die oë van die man wat ek nog altyd geweet het jy sal word.

Jou briewe is koud en leweloos tussen my warm hande. Die ink van jou woorde so lank reeds droog. Ek vou elkeen versigtig oop en deel die stowwerige inhoud met jou. Ons lag oor dit wat was. Herroep die herinneringe van ons sorgvrye saamwees.

Onthou jy nog hoe dit was? Hoe my hand warm en sag in joune gepas het? Hoe my kop altyd die regte plekkie op jou skouer gevind het? Dit was so maklik om jou lief te hê. Tog het ek so groot gemors daarvan gemaak.

Ek wou jou gekeer het, daardie dag toe jy uit my lewe gestap het, maar ek was te kwaad. Nooit vir jou nie - sommer net. Ek wou jou soveel maal vertel van die onstuimigheid in my, maar kon nooit die regte woorde vind nie. Ek het jou laat gaan want dit was te moeilik om te verduidelik hoekom jy moet bly.

Ons het soveel tyd gemors. Al die jare tussen toe en nou voel skielik leeg en effens doelloos. Maar al wat saak maak is dat jy nou hier saam met my is. Kruisbeen op die mat.

Ek vou jou briewe op, bind die bonneltjie weer styf vas en bêre dit versigtig. Toe ek opkyk is jy weg. Ek het jou weggebêre saam met jou briewe in die houtkissie onder my bed.

No comments:

Post a Comment